Is vryheid Suid-Afrika se voorland?

Daar is weereens ‘n verkiesing in Suid-Afrika, en weereens is daar ongelooflik baie op die spel. Voor enige verkiesing gaan die verskeie partye natuurlik hul bes doen om ons te oortuig om vir hulle te stem. Vir al hulle verskille is daar een tema wat gemeen is aan almal: Stem vir ons, en ons sal vir jou iets verniet gee. Of ‘n huis, of elektrisiteit, of geld… Solank ons net vir die régte mense stem, sal hulle ons lewens vir ons vooruit beplan en seker maak ons ly nooit aan honger of koud nie. 

Die groot probleem met hierdie perspektief is dat ons heeltemal te veel mag in die hande van die staat plaas. Na die verkiesing gaan die staat weereens hierdie mag gebruik om individuele regte te skend.

Die onlangse proteste in Alexandra is die nuutste voorbeeld van die staat se mislukking. Maar in plaas daarvan om te fokus op die rol en grootte van die staat, fokus ons op die mense en persoonlikhede wat in beheer is. Ons is gans te vinnig om te vergeet dat daar eintlike ‘n groter probleem is.

Elke Suid-Afrikaners moet besef dat hulle verantwoordelik is vir hul eie lewe. Om meer en meer mag en beheer vir die staat te gee moet nie ons voorland wees nie. In plaas daarvan om te wag vir die staat om alles vir ons op te los, moet ons self oplossings vind vir ons probleme.

Hoe groter die staat, hoe minder plek is daar vir die individu in die samelewing. Mense moet fokus op wat hulle vir hulself kan doen, sonder om te wag vir die staat om ons probleme op te los.

Kom ons fokus op ‘n spesifieke probleem wat tans talle Suid-Afrikaners in die donker dompel: Eskom.

Dié staatsentiteit geniet ‘n monopolie in die krag sektor. Daar is geen kompetisie vir Eskom nie, en mislukking na mislukking gee die staat net meer en meer belasting-geld oor. Daar is geen verantwoordelikheid verbonde aan Eskom nie, want hulle sal altyd hulp ontvang van die staat.

Eskom moet geprivatiseer word. Mits dit nie gebeur nie, moet kleiner krag maatskappye toegelaat word om krag aan die verbruiker te verskaf. Kompetisie is die enigste manier om te verseker dat pryse laer sal wees en dat die verbruiker meer verskeidenheid sal geniet. As een maatskappy misluk, kan ons na ‘n ander een oorgaan. Kompetisie sal ook beteken dat daar meer werksgeleenthede is - iets wat Suid-Afrika dringend benodig.

Ongeveer 10 miljoen Suid-Afrikaners sit tans sonder werk. Daar is soveel arbeidswette in plek dat dit moeilik is om by te hou. Die nasionale minimumloon is die nuutste voorbeeld hiervan. Hoe moeiliker ons dit maak vir besighede en potensiële werknemers om ‘n kontrak te teken, hoe minder gaan mense werk vind. Om ‘n besigheid te stig en bestuur is nie kinderspeletjies nie; nou maak ons dit net nóg moeiliker vir bestuurders en eienaars om mense werk te gee, want al die wette maak dit net duurder om nuwe personeel aan te stel. Die hoeveelheid arbeidswette beteken ook dat talle besighede oorsee kyk, waar hulle aangemoedig word om sonder staatsleiding te funksioneer. Suid-Afrika moet ‘n land van besigheidsgemak wees, waar so min as moontlik struikelblokke in werknemers en werkgewers se pad staan.

Suid-Afrikaners is baie bang vir een woord: korrupsie. Ons vrees dit om elke hoek, en ons plaas alles, veral Eskom se probleme, op korrupsie binne die staat. Maar ons moet besef dat die Suid-Afrikaanse staat en regering so groot is dat enige iemand dit kan kaap. Hoe groter die staat, hoe meer geld is daar betrokke, en hoe meer geleentheid is daar vir mense om ‘n kans te sien om hulself te verryk deur ons belasting-geld te steel. Ons geskiedenis is gekenmerk vir die plasing van belangrikheid van die groep of die staat, bo die individu. As Suid Afrika wel gaan herstel en miskien groei moet die individu bo die staat geplaas word.

Ongeag watter spesifieke party die algemene verkiesing wen, moet ons elkeen begin om ons eie mag en beheer terug te vat van die staat. Ons moet nie meer wag vir iemand om goed te kom regmaak vir ons nie - ons moet dit sélf doen. Elke individu se lewe is hulle s’n om mee te doen soos hulle bes dink. Om te verseker dat elke persoon hul lewe bes kan benut moet die staat uit die pad kom. Ons kan duidelik sien wat gebeur as ons die staat met ons lewens en ons geld vertrou. Mense gaan wel foute maak as hulle vry is - dit is deel van die realiteit van individuele vryheid. Ons moet meer vertroue in ons medemens plaas, en nie in die staat nie.

Chris Hattingh is ’n navorser van die Vryemarkstigting

This article was first published on Maroela Media on 19 April 2019
Help FMF promote the rule of law, personal liberty, and economic freedom become an individual member / donor HERE ... become a corporate member / donor HERE