Hoop in medemens, nie in die regering nie

President Ramaphosa het laas week kommentaar gelewer op die onlangse parlementêre debat wat gevolg het op sy  staatsrede van 2021. Die president het, onder meer, Suid-Afrikaners gevra om die goeie in die land en hul medemens raak te sien en te waardeer, en om nie die heeltyd op die negatiewe te fokus nie. Suid-Afrikaners het elke rede om die goed in ander raak te sien; deur selfs die moeilikste tye probeer bure en gemeenskappe vir mekaar omsien, en mense skenk aan liefdadighede (wanneer die regering dit nie óók verban nie).

Maar ná amper 'n volle jaar van die regering se irrasionele hantering van die Covid-19 pandemie (die verbanning op gekookte hoender en e-handel, asook persoonlike beskermende toerusting-korrupsie en die entstofdebakel staan uit) en jare van die regering se vernietigende ideologie en beleide – het burgers ongelooflik min rede om die goeie in die regering te sien.

In sy staatsrede het president Ramaphosa gepraat van die land se fynbos, en hoe die land se mense, nes fynbos, vernuwe word deur elke brand. Die president het vergeet om die ontelbare brande wat die regering self al op die mense losgelaat het, in te sluit. Van regstellendeaksiebeleide – wat eenvoudig mense met die "regte" politieke verbintenisse beloon – tot die beplande wysiging van artikel 25 van die Grondwet (en vele voorbeelde tussenin), het hierdie regering oor die jare die afswaai van die ekonomie veroorsaak.

Voor Covid-19 ons begin teister het, was meer as 10 miljoen Suid-Afrikaners werkloos en talle meer het, as gevolg van werksontmoedigende wette, ophou soek vir werk. Kapitaalbelegging (van beide plaaslike en internasionale oorsprong) is absoluut noodsaaklik vir enige groei van besighede en die skepping van werksgeleenthede – hierdie raak egter by die jaar al hoe minder.

Dat die regering tans besig is met die proses om die Grondwet fundamenteel te verander – om onteiening van eiendom sonder vergoeding (OSV) wettig te maak – moet vir elke Suid-Afrikaner 'n massiewe waarskuwingsteken wees aangaande die oorkoepelende rol wat hierdie regering in ons daaglikse lewens wil speel. Die mag wat OSV die staat sal gee, is nie slegs 'n probleem ten opsigte van die huidige regering nie – enige regering sal in die toekom kan intree en mense se eiendom van hulle wegneem. In so 'n omgewing het niemand die nodige aansporing om te bou, te werk, of om in Suid-Afrika se toekoms te belê nie. Die goeie wat mens in Suid-Afrika kan ervaar, gaan net al hoe vinniger verdwyn as die regering voorgaan met OSV.

In sy 18 Februarie-toespraak het die president gesê dat die land se grondherverdelingsprogram versnel moet word as die land sy potensiaal gaan bereik. Dat Suid-Afrika aandag aan die wonde van die verlede moet gee en oplos, is sonder twyfel belangrik, Maar om dan vanaf daardie beginposisie te beweeg na die posisie dat eiendomsregte verdun moet word (deur die bogenoemde wysiging van artikel 25), is waansinnig. Grondhervorming wat geskied in die konteks van ’n regering wat enige tyd enigiemand se eiendom kan wegneem, gaan net armoede en swaarkry veroorsaak. Die oppergesag van die reg en sterk eiendomsregte moet enige grondhervormingsproses onderlê.

Saam met vernietigende beleide soos OSV moet Suid-Afrika ontslae raak van al hoër belasting en die idee dat herverdeling van party mense se rykdom ander regtig kan ophelp, dryf mense óf na die buiteland óf dien as 'n rede om nie besighede en produkte en dienslewering aan te pak nie. Hierdie moet 'n land wees wat sukses, innovasie en deurbrake bemoedig, nie by elke geleentheid aftakel nie.

Indien hierdie regering ernstig was oor mense se potensiaal, sou ons drastiese aanpassings gesien het aangaande die vele maniere hoe die staat in ons lewe probeer inmeng. Oor die lang termyn gaan "staatsgeleide groei" baie min verwerf – solank as die staat die privaat sektor se suurstof opsuig, en die regering se skuld-tot-BBP nader kruip aan 100%, gaan ons nooit ware radikale ekonomiese groei ervaar nie. Ná Covid-19 benodig Suid-Afrika ten minste 5-7% groei per jaar vir die volgende 5 jaar om enige ernstige vordering te maak in die uitdaging om werk te skep vir meer as 11 miljoen werkloses.

Hierdie regering is moeg, sonder verbeelding en sonder nuwe idees. Meer staatsbeheer is nie die antwoord vir Suid-Afrika se probleme nie; die beste ding wat die regering nou kan doen, is om uit die pad te staan.

Hierdie artikel het eerste verskyn op Maroela Media op 23 Februarie 2021.

Help FMF promote the rule of law, personal liberty, and economic freedom become an individual member / donor HERE ... become a corporate member / donor HERE