Die voorgestelde opheffing van die handelsverwante aspekte van intellektuele eiendomsregte op Covid-19-entstowwe (wat sterk deur Indië en Suid-Afrika ondersteun word) sal nie die probleem oplos wat sommige lande ervaar om Covid-19-entstowwe in die hande te kry nie.
Die praatjies van 'n "entstof-apartheid" is sensasioneel en emosioneel en trek die aandag af van die werklike oorsake van entstoftekorte: beperkinge op produksie- en verspreidings-vermoëns en internasionale handelshindernisse.
Pres. Cyril Ramaphosa het in sy beroep op Suid-Afrikaners om die kwytskelding te steun gesê entstowwe behoort tot internasionale voordeel aangewend te word en het gewaarsku teen 'n "entstof-apartheid" as ryk lande die entstowwe ophoop.
Die populistiese retoriek hou egter nie tred met die rol wat kapitaalakkumulasie, belegging en vooruitgang speel op die gebied van die ontwikkeling van medisyne nie.
Die opskorting van patente beteken ook nie dat nuwe fabrieke, laboratoriums en komplekse voorsieningskettings skielik uit die lug gaan val nie. Selfs as Suid-Afrika toegang gehad het tot al die entstowwe wat ons nodig het, glo iemand werklik dat 'n staat wat deur endemiese korrupsie en ondoeltreffendheid gekniehalter word, die entstowwe doeltreffend in die arms van sy bevolking sou kon inspuit?
Dit is wel so dat talle Eerste- wêreldregerings subsidies aan maatskappye soos Moderna en Pfizer betaal het om die ontwikkeling van entstowwe te bespoedig. Hulle het dus sekerlik alle reg om hierdie maatskappye te dwing om hul intellektuele eiendom en uitvindings met ander maatskappye oor die wêreld heen te deel. Maar om daarvan afstand te doen, dra nie hierdie tegnologiese kundigheid - en die inenting van entstowwe - onmiddellik na ander plekke en lande oor nie.
Entstowwe is ongelooflik ingewikkeld om te maak. Behalve dat jy mense met die regte vaardighede nodig het (wat hulle oor 'n lang tyd opgebou het), het jy ook die regte toerusting en vermoë nodig. Dit is nie so maklik om dit alles oor- nag na ander lande te verplaas nie. Die beroep op die tydelike afstanddoening van intellektuele eiendomsregte - en in sommige gevalle die algehele wegdoening daarmee - klink miskien nou na 'n mededeelsarne manier van doen, maar dit help ons nie om te verstaan hoe ons meer innovasie en goedkoper toegang tot entstowwe en ander medisyne in die toekoms kan verseker nie.
So 'n skuif in 'n steeds veranderende pandemiese wêreld is nie die beste manier om te verseker dat meer entstowwe geproduseer word nie, want ons kan dalk nou meer druk sien op bestaande vervaardigers en verskaffingskettings - wat verder kan lei tot minder hoeveelhede entstowwe of foute in die vervaardigingsproses.
Die debat oor intellektuele eiendom en entstowwe dien ook as 'n goeie illustrasie van twee ander argumente wat deesdae dikwels in maatskaplike en ekonomiese kringe gevoer word. Die eerste is die aanname dat indien daar 'n behoefte aan X bestaan, X in genoegsame hoeveelhede beskikbaar moet wees om aan die behoefte te voldoen.
Hulpbronne (natuurlik sowel as menslik) is egter beperk en op 'n stadium in die proses moet iemand die werk doen om X te produseer. Jou behoefte aan X plaas nie outomaties 'n verpligting op iemand anders om dit te vervaardig nie.
Die tweede aanname wat hier ter sprake is, gaan oor die veelbeswadderde winsmotief en die verontwaardiging dat maatskappye wins wil maak uit die skep en verspreiding van lewensreddende entstowwe. In hierdie verband is dit noodsaaklik om te verstaan dat waarde nie in 'n vakuum bestaan nie. 'n Diens of goedere is slegs belangrik in soverre dit vir iemand van waarde is. Dat ek liggaamlike of intellektuele arbeid in die ontwikkeling van iets stort, beteken nie dat dit outomaties van soveel waarde vir mense gaan wees dat hulle bereid sal wees om daarvoor te betaal nie. Ek moet reageer op die markbehoefte aan iets.
Ten spyte van 'n wêreldwye pandemie, is dit steeds geregverdig dat maatskappye betaal moet word vir die entstowwe wat hulle vervaardig het. Om te verwag dat alle entstowwe "gratis" weggegee moet word, insinueer dat ons die reg het om te bepaal dat die werkers by hier die maatskappye geen vergoeding ontvang nie.
Philip Thompson, beleidsanalis by Property Rights Alliance, wat spesialiseer in internasionale wetgeving oor intellektuele eiendom en handelsbeleid, en die skrywer van die International Trade Barrier Index, wys daarop dat daar 191 handelsbeperkingsmaatreëls is vir Covid-19-verwante voorrade. Hy wys ook daarop dat die kwytskelding van intellektuele regte 'n onmiddellike gevaar inhou vir die verspreiding van gehalte-entstowwe, aangesien dit kan lei tot innoveerders wat in hul doppe terugtrek en minder geneë is om aan enige wêreldwye samewerking deel te neem.
Om die vloei van entstowwe te vergemaklik, behoort rege- rings van middelinkomstelande soos Suid-Afrika tariewe vir me- diese goedere op te hef, ver- stoppings betreffende doeaneprosesse identifiseer en oplos, en beleggings in hul eie lande aanspoor. Die soort aansporings is van groot belang om beleggings, innovasie en ekonomiese aktiwiteite in sulke lande aan te spoor. Die soort aansporings is van kritieke belang omdat lande wat beleggings, innovasie en ekonomiese aktiwiteite aanspoor, altyd die beste mensekapitaal lok.
Verhoogde openheid en handel het die afgelope 100 jaar daartoe gelei dat miljoene mense uit die uiterste armoede opgehef is. Daarom is dit van uiterste belang dat die wêreld nie nou hul rug op hierdie beginsels - en die voordele wat dit inhou - keer nie.
Die pandemie het regerings wêreldwyd - en die Suid-Afrikaanse regering spesifiek - 'n uitstekende geleentheid gebied om hul eie ideologieë en beleidsrigtings voor Covid-19 in heroënskou te neem en hulself af te vra of hul beleidsrigtings besig is om beleggings, tegnologiese vooruitgang en groei in hul lande te ondersteun en aan te moedig. En as hulle voor die pandemie reeds voortgeploeter het en nou sukkel om voldoende entstowwe te bekom, is dit tyd om die skade wat hul beleid aan hul eie lande berokken, noukeurig te ondersoek.
Hierdie artikel het eerste verskyn in die 16 Mei 2021 weergawe van Rapport.