This article was first published by Maroela Media on 3 August 2023
ANC/SAKP-regering nie só onbekwaam, as sy sosialistiese doelwit in ag geneem word nie
Talle mense bly vandag verbyster oor die African National Congress (ANC) se vernietiging van Suid-Afrika.
‘Maar dit is mos duidelik dat rasgebaseerde beleid nie werk skep of ekonomiese groei bevorder nie. Dit is ook duidelik dat die regering se voortgesette beheer van Eskom tot erger beurtkrag gaan lei. Waarom kan die ANC dit nie verstaan nie?’, word veral gevra.
In haar nuwe boek, Countdown to Socialism: The National Democratic Revolution in South Africa Since 1994 (Jonathan Ball, Johannesburg) verduidelik dr. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge dat hierdie die verkeerde benadering is om die regerende alliansie van die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) te verstaan.
Die feit van die saak is dat die gesaghebbendes in die ANC nie onnosel is nie. Hulle weet presies wat hulle doen. Dit is foutief om aan te neem dat die ANC en die regering werk wil skep, groei wil bevorder, of beurtkrag wil beëindig.
Dié is nie die ANC regering se doelwitte nie.
Wanneer ons rasgebaseerde beleid en sentralisering van dienste, onder ander vernietigende beleidskeuses, teen die ANC se eintlike doelwit meet, dan sal ons sien dat die ANC juis baie bekwaam is en wel besig is om sy doelwit te bereik.
Nasionale Demokratiese Revolusie
Die uiteindelike einddoel van die ANC/SAKP-alliansie is om die ekonomie en samelewing in so ‘n mate te ‘transformeer’ dat die vestiging van ‘n sosialistiese regime moontlik word. Onder omstandighede van oorvloed en fluorering, en onder omstandighede waar daar ‘n sterk burgerlike samelewing en kommersiële sektor bestaan, is dit nie moontlik nie.
Om sosialisme moontlik te maak, moet die regering met ander woorde afhanklikheid teenoor die staat skep en beheer oor formasies buite die staat neem. Die regering moet ook die maatskaplike en ekonomiese ineenstorting van die samelewing op kapitalisme blameer, om te verseker dat staatsbeheer in die kollektiewe geestesoog as die oplossing geag word.
En die ANC/SAKP alliansie is al ver gevorderd met hierdie program. Hulle noem dit die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR).
Die NDR is ‘n plaaslike vorm van die ou kommunistiese formule wat vereis dat die proletariaat éérs (in die eerste fase) deur middel van die demokrasie beheer moet neem oor regeringsinstellings, en dan hierdie mag gebruik om (in die tweede fase) sosialisme in die ekonomie teweeg te bring. Hierdie formule was veral van toepassing in die ex-koloniale wêreld.
Alhoewel dit baie aanmatigend is, beskou die ryk-bo-verbeelding leiers van die ANC en SAKP hulself as die verteenwoordigers van die proletariaat. Die eerste fase is dus nou voltooi in Suid-Afrika. Die tweede fase is aan die gang, met ingrypings soos die Onteieningswetsontwerp en Nasionale Gesondheidsversekering in die pyplyn.
Die NDR is nie ‘n samesweringsteorie nie. Die ANC en SAKP en selfs die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is baie openhartig oor hulle verbondenheid tot sosialisme oor die algemeen en die NDR in die besonder. Daar is ook talle toeganklike tekste geskryf regdeur die jare van die Struggle waarin akademici wat goedgesind was teenoor die ANC/SAKP alliansie die NDR bespreek het. Die ‘tweefase revolusie’-formule is ook gebaseer op die werk van sosialiste sélf, eerder as ‘n derdeparty vertolking van hulle oortuigings.
Vir kommentators soos Ebrahim Harvey en Chrispin Phiri om die sosialistiese en antikonstitusionele grondslae van die NDR te ontken is dus niks meer as gaslighting nie.
Die ANC en SAKP is oor dekades lank eerlik oor die sosialistiese aard van die NDR, en tydens die oorgangstydperk van die 1990s het albei sterk terug gedruk teen ander partye se voorstelle om substantiewe wigte en teenwigte in die Grondwet te verskans. Die alliansie het aangevoer dat die nuwe regering ‘n vrye hand moet hê om sosiale gelykheid te aan die orde van die dag te bring.
Om vandag aan te voer dat die NDR versoenbaar is met ‘n vryemarkstelsel of met konstitusionalisme is intellektueel oneerlik.
Meeste sosialiste – buiten Harvey, Phiri, en ‘n handjievol ander wat van die vrugte van kapitalisme hou maar in hulle harte sosialiste bly – is nie skaam oor dié ideologie nie. Inteendeel, hulle glo dat hulle uiteindelik na ‘n toekoms streef wat ideaal vir almal gaan wees.
Regte sosialisme
Afgesien van die naakte korruptheid onder talle in die ANC glo ek nie die opregte-gelowiges het slegte intensies nie. Maar nés Apartheid, kan slegte, vernietigende beleid nie aan die intensies van sy argitekte gemeet word nie. Aansienlik meer fokus moet op die aard van die beleid (bv. diefstal, ongeag die intensies óf resultate daarvan, is by sy aard immoreel) én sy uitkomste geplaas word.
Vir die ANC/SAKP alliansie was die sosialisme van die Sowjetunie, en ander soos bv. Kambodja, nie ‘regte sosialisme’ nie. Dit sal hiér werk, in Suid-Afrika, want óns verstaan oënskynlik die foute wat voorheen gemaak is en sal dit nie herhaal nie.
Sekere kommentators mag dalk Jeffery se boek lees en dus tot die slotsom kom dat dit eintlik goed is dat die ANC steeds ideologiese doelwitte het, en dat dit goed is dat die NDR – wat groot gedeeltes van die anti-Apartheid beweging se leidende ster was – wéér op die agenda is.
Inteendeel, na my mening, moet diegene in die voormalige Sowjetunie en Kambodja bly wees dat hulle nie onder ‘regte sosialisme’ geleef het nie, want ‘regte sosialisme’ sou nóg erger uitkomste gehad het as die ‘fopsosialisme’ wat moderne linkses glo daar van toepassing was. Stel jou voor die staat kan dit in werklikheid regkry om alle ekonomiese aangeleenthede te regimenteer.
Dit sou meer van ‘n totalitêre nagmerrie wees!
Jeffery verduidelik dat sosialisme eenvoudig nie werk nie, en dat dit byna altyd die teenoorgestelde maatskaplike uitwerking het as wat bedoel was. Buiten die enorme ekonomiese vernietiging wat sosialisme noodwendig teweeg moet bring, ontaard dit ook altyd in diktatorskap en streng beperkings op burgerlike vryheid.
Kapitalisme en konstitusionalisme
Die egte vryheid wat die kapitalistiese, vryemarkstelsel vir gewone mense verleen moet nie as ‘n draaglike ongerief geag word nie. Dit moet eerder erken word as die mees bevrydende menslike instelling van die laaste vier eeue.
Sosialisme, eg óf fop, stel voor om al die deelnemers in die ekonomie en samelewing te verbind tot die ‘plan’ van die politieke elite.
Of jy nou van die Grondwet hou of nie, is dit duidelik dat die Grondwet nie die totalitêre sosialisme van die NDR beoog nie. Dit stel – met noemenswaardige imperfeksies – ‘n oop en vrye samelewing in die vooruitsig waar gewone mense, gemeenskappe, en besighede outonoom en selfstandig mag optree, eerder as om deur ‘n dominerende staatsburokrasie rondgelei te word.
En dr. Jeffery verduidelik in detail hoe die ANC/SAKP alliansie sedert die jare van die tussentydse grondwet aan die werk is om hierdie basiese konstitusionele postulaat te ondermyn, en te verseker dat hul eie kaders die spilpunte van elke belangrike besluit in die ekonomie of samelewing word.
Alle ernstige waarnemers van Suid-Afrikaanse aangeleenthede moet ‘n kopie van Countdown to Socialism besit as hulle die motiewe van die politieke elite wil verstaan en insig wil kry oor die aannames wat skuil agter elke gevolglike besluit wat in die politieke terrein geneem word.